‘n Paar dae gelede sit ek in ‘n Virgin Atlantic vliegtuig op die aanloopbaan by Heathrow Lughawe. Iets is verkeerd met die petrolpomp en ek verwyl die tyd met my boek, The Garden of Evening Mists. Teen die einde beskryf die skrywer hoe ‘n vrou wie se man gesterf het in ‘n woud in Maleisië, ‘n plaat speel met dié lied wanneer sy gaan slaap – Abide with Me. Haar verstand is nie meer so helder nie, maar hierdie gunsteling lied van haar man, bring vrede en laat haar slaap.
En terwyl ek so lees, val ‘n traan onwillekeurig oor my wang. Dit laat my dink aan my Pa. Hy het nooit na musiek geluister nie want hy was altyd besig, maar somtyds, net somtyds, moes ons vir hom ‘n plaat speel met sy gunsteling lied Vienna, City of My Dreams. Richard [uitgespreek Rigart, volgens hom] Tauber was ‘n beroemde Oostenrykse tenoor in die vroeë jare van die vorige eeu. Hy het hierdie lied met sy aangrypende lirieke meesterlik vertolk en elke keer ‘n glimlag oor Pa se gesig gebring.
Daar op die aanloopbaan bring die boek en die herinnering aan my Pa en sy gunsteling Vienna, City of My Dreams vir my ‘n oomblik van heilige vrede en spontane dankbaarheid dat ek daardie herinnering op my interne skerm kan speel.
Hier is ‘n paar reels uit Vienna, City of My Dreams. Terwyl ons nou op pad Kersfees toe is, kan ons sommer ook dink aan ons verbeelde Stad van Drome – al is dit net ‘n lekker illusie of ‘n kosbare herinnering.
VIENNA, CITY OF MY DREAMS
Heaven, Vienna mine
I′m in the spell of your charms divine
Dressed like a queen, with life so gay,
You are the love of my heart today
Heaven, Vienna mine
Laughter and music and stars that shine,
Wonderful city where I belong,
To you I sing my song.
And though she has countless lovers like me,
I have no wish to be set free.
Heaven, Vienna mine
Of her I sing my song.